Die leier van die VF Plus, dr Pieter Groenewald, het die inhegtenisname van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering verwelkom. Dit volg na bewerings dat sy omgekoop is met “geskenke” van weermag-kontrakteurs terwyl sy minister van verdediging was. Groenewald het gesê dit sal hopelik ʼn einde bring aan die ANC se gebruik oor byna drie dekades om die weermag as sy eie spaarvarkie te gebruik en kaders op hoogste vlak te ontplooi.
Groenewald sê die voortdurende besnoeiings aan die weermagbegroting het die land gebring tot waar hy homself kan verdedig, ernstig bevraagteken word. Die land se wapenbedryf is ook feitlik vernietig.
INTUSSEN, het die parlement se portefeuljekomitee oor verdediging die week gehoor dat die departement van verdediging net R800 van sowat R430 miljoen teruggekry het wat vrugteloos verkwis is. Daarby het die departement ongemagtigde uitgawes van R2,6 miljard wat tot R5,6 miljard teen die einde van die boekjaar kan styg. Onreëlmatige uitgawes beloop R15,98 miljard waarvan net R76 000 verhaal is. Groenewald sê dit is duidelik dat die departement onder minister Thandi Modise, soos haar voorganger, bloot voortgegaan het om belastinggeld op ʼn reuse skaal te vermors.