Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het ‘n nuwe leier nadat Dr. Pieter Groenewald besluit het om nie weer vir verkiesing beskikbaar te wees nie.
SABC News berig hy gaan voortaan op sy rol as minister en sy betrokkenheid by die Regering van Nasionale Eenheid fokus.
Corné Mulder is Saterdag onbestrede verkies as president tydens die party se leierskapskonferensie in Pretoria.
Hy volg Groenewald op, wat die party die afgelope nege jaar gelei het.
Volgens Bloemfontein se eie VF Plus-LP Wouter Wessels bly die party se kernwaardes onveranderd.
Groenewald bly steeds betrokke en ondersteun die nuwe leierskap, terwyl hy sy aandag op sy regeringsverantwoordelikhede toespits.