Terwyl kunsmis aansienlik duurder geword het, weens die Rusland/Oekraïne-oorlog, sê die minister van landbou dat daar niks spesifiek gedoen is om die land se boere met meer bekostigbare kunsmis te help nie.
Fanie du Toit, VF Plus-LP, wou by minister Thoko Didiza weet watter planne haar departement gemaak het om bekostigbare kunsmis te help voorsien, om voedselsekerheid te beskerm en om kosprys-inflasie te help stuit.
Hoewel daar nie in reaksie op die impak van die oorlog gereageer is nie, het sy gesê die departement het reeds ‘n aantal ondersteuningsprogramme, soos byvoorbeeld die ondersteuningseenhede vir boereproduksie in plek.
Volgens haar is daar wel by bestaansboere ingegryp. Ses bestaansboere in die Vrystaat het by 428 sakke kunsmis vir 290 hektaar grond gebaat.