Vier mans is op heterdaad betrap, waar hulle glo dagga aan studente in Bloemfonetein verkoop het. Die Parkweg-polisiekantoor is voorsien van inligting oor verdagte gedrag by ‘n huis in Universitas. Lede van die polisiediens het by die huis opgedaag, terwyl die verdagtes na bewering met die onwettige verkooptransaksies besig was. Polisiekaptein, Loraine Earle, sê daar is beslag gelê op dagga met ‘n waarde van nagenoeg R20 000. Die mans is in hegtenis geneem op aanklagte van handeldryf in dagga.
Hierdie inhegtenisnemings volg slegs dae nadat dagga vir private gebruik gedekriminaliseer is. Dit het wettig geword, toe die wetsontwerp op dagga vir private gebruik, die aand voor die verkiesing deur president Cyril Ramaphosa bekragtig het. Aan die hand van ‘n verklaring wat deur die Presidensie uitgereik is, sal dagga nou wegval uit wetgewing oor dwelm en dwelmhandel. Dit maak ook voorsiening vir die wysiging van sekere ander wette, ten einde handelsaangeleenthede in die daggasektor aan te spreek. Die nuwe Wet verbied egter steeds die verkoop van dagga in die algemeen.