Vier van die vyf mense wat die veroordeelde moordenaar en reeksverkragter, Thabo Bester, na bewering help ontsnap het, is Maandag in die landdroshof in Bloemfontein borgtog geweier.
Netwerk24 berig slegs Natassja Jansen, voormalige werknemer in die Mangaung-gevangenis se kontrolekamer, is borgtog toegestaan.
Sy bly egter in aanhouding totdat sy borgtog van R10 000 betaal.
Bester en sy minnares, Nandipha Magudumana, is verlede maand uit Tanzanië na Suid-Afrika gedeporteer, nadat hulle in Arusha in hegtenis geneem is.
Magudumana is in aanhouding in die Kroonstad-gevangenis en verskyn weer op 20 Junie in die hof saam met Bester, asook haar pa, Cornelius Sekeleni.
Sekeleni is uit op borgtog.
Bester word vir nou in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Tshwane aangehou.