Fase vier beurtkrag gaan waarskynlik Sondag heers wanneer die Springbokke se eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Skotland begin. Eskom het vandag bekendgemaak beurtkrag gaan die naweek tussen fase een en fase vier wissel. Fase vyf geld op die oomblik. Netwerk 24 berig dit beteken fase vyf gaan ook geld tydens die openingseremonie van die Wêreldbeker-toernooi om agt-uur vanaand en vir die eerste wedstryd wat om kwart oor nege begin. Fase vyf eindig Saterdagoggend om vyf-uur. Vir Sondag geld fase een vir die hele dag tot vier-uur die middag maar daarna begin fase vier. Vir sommige ondersteuners sal dit naelbyt wees, nie vir die wedstryd nie maar wel oor die afskoptyd om kwart voor ses en of daar beurtkrag gaan wees al dan nie. Eskom pas egter dikwels oor naweke die skedule aan as opwekkingsvermoë verbeter of verswak.