Die voëlgriep wat onder hoenders in Suid-Afrika uitgebreek het, maak in ander wêrelddele ook ‘n draai omdat voëls wat migreer ook die hoogs aansteeklike virus kan kry. Dit nadat voëlgriep die eerste keer in Antarktika aangemeld is. Die kommer het nou ontstaan dat die dodelike siekte ‘n bedreiging vir pikkewyne en ander voëlspesies op dié vasteland inhou. AFP berig wetenskaplikes het die uitbreking gevrees omdat Antarktika ‘n belangrike broeiplek vir baie voëls is. Die British Antarctic Survey se poolstreek-navoringsinstituut, het gesê monsters is geneem van bruin roofmeeue op Bird Island, noord van antarktika en het positief getoets vir die virus. Die virus is heel waarskynlik versprei deur voëls wat van hul migrasie na Suid-Amerika teruggekeer het waar groot getalle voëlgriepgevalle aangemeld is.
