Volgens ‘n navorser by die Mediese Navorsingsraad, Ameena Goga, bied die entstof nie volledige beskerming teen covid-19 nie

Volgens ‘n navorser by die Mediese Navorsingsraad, Ameena Goga, bied die entstof nie volledige beskerming teen covid-19 nie, maar verminder die risiko van ernstige simptome en sterftes.

Goga sê ook die studie oor die Johnson en Johnson entstof sal teen die einde van April of eerste week van Mei afgehandel wees waarna die bevindings in ‘n verslag bekend gemaak sal word.

Sy sê 17 van die mense wat aan die proewe deelgeneem het, het positief getoets vir die virus.

Goga sê hulle hersien die toetsuitslae weekliks en tot dusver is bevind dat die entstof sowat 85% beskerming bied teen ernstige simptome en 100% teen sterftes.

Netwerk24 het vroeër berig dat ‘n fonds deur die regering gestig gaan word waar mense vergoeding kan eis indien hulle ernstige newe-effekte ervaar van ‘n Covid-19 entstof.

Intussen het nuwe Covid-19 gevalle weer gestyg tot bo die 1000-kerf.

‘n Totaal van 1366 nuwe gevalle van Covid-19 is in die afgelope 24-uur siklus aangemeld en 62 Covid 19-verwante sterftes is ook in die tydperk aangemeld.

Daarvan was die meeste, naamlik 30 sterftes, in die Noordwes, 11 in die Vrystaat, 8 in Gauteng, 5 in Mpumalanga en die Noord-Kaap onderskeidelik, en 2 in Kwazulu-Natal.

Die totale aantal sterftes weens die coronaviruspandemie is nou 53 173.

Die herstelkoers staan steeds op 95 persent. Daar is tans 21,170 aktiewe gevalle in die land.

Luister na potgooie hieronder