‘n Voorlopige parlementêre verslag oor die geskorste adv Busisiwe Mkhwebane gaan vandag saamgestel word met aanbevelings of daar genoeg rede is om haar as Openbare Beskermer, of OB, te verwyder. Die klagtes teen Mkhwebane is onder andere wangedrag in die ondersoek na die Reserwebank, wangedrag ten opsigte van die Vrede-verslag en onbevoegdheid met sekere besluite en die viktimisering van werknemers in haar kantoor. Mkhwebane se getuienis voor die artikel 194-komitee van die parlement was omstrede met slegs ses dae wat sy getuig het. Sy het ook geweier om vrae op skrif te beantwoord. Sy wou ook die voorsitter van die komitee, Qubudile Dyanti en ander komiteelede laat verwyder deur hofaansoeke omdat hulle glo omkoopgeld gevra het om die ondersoek teen haar te laat verdwyn.