R330-miljoen. Dít is hoeveel Naspers se voormalige hoofuitvoerendebeampte die afgelope geldjaar verdien het. Bob van Dijk, wat nog tot einde September vir Naspers konsulteer, sal tot dan ‘n verdere 2,2 miljoen per maand verdien. Die uiteensetting van sy salaris, wys dat Van Dijk die afgelope finansiële jaar bykans R1-miljoen per dag verdien het.
BusinessTech het somme gemaak: Van Dijk het meer as R1,8-biljoen ingepalm gedurende die tien jaar wat vir Naspers gewerk het. Dit kom neer op ‘n gemiddeld van nagenoeg R500 000 per dag.
Intussen is Media24 – ‘n Naspers-filiaal – in die proses om die gedrukte uitgawes van vyf koerante te staak, asook sekere van sy digitale publikasies. Minstens 400 mense gaan hulle werk kwyt wees. ‘n Verdere 400 poste sal in die weegskaal hang, wanneer Media24 al sy tuiskoerante, en sy On the Dot-medialogistiek-onderneming, aan Novus Holdings verkoop.
Novus Holdings – aanvanklik Paarl Print Media – is in 2015 deur Media24 op die Johannesburg-effektebeurs genoteer. Ishmet Davidson, Media24-uitvoerende hoof, sê konsultasie met personeel behoort einde September afgehandel te wees. Dit is ook die datum waarop Bob van Dijk, voormalige Naspers-hoofuitvoerendebeampte, se konsultasie-kontrak met Naspers ten einde loop.
Koos Bekker, voorsitter van die Naspers-raad, se persoonlike rykdom het aldus Forbes, vanoggend ‘n netto-waarde van nagenoeg R47,3-biljoen.