Die strukturele ingenieur van die gebou in George wat meer as ‘n week gelede ineengestort het, se vorige projek, aanbouings by ‘n sportklub in Kaapstad, moes gesloop word. Dit volgens ‘n verslag van Chris von Geusau, voormalige direkteur van die ingenieursfirma, Kantey en Templer.
Netwerk 24 berig ‘n verslag van Von Geusau het aanbeveel dat Athol Mitchell van die Paarlse firma, Mitchell en genote, se halfgeboude struktuur in Nuweland, Kaapstad gesloop moes word. Mitchell is kort na die George tragedie as vermis aangemeld maar is later weer gevind. News 24 berig Mitchell is al twee keer by die Ingenieursraad van Suid-Afrika aangekla en vroeër vanjaar skuldig bevind aan verskeie oortredings van die liggaam se gedragskode.