Vragmotorbestuurders van die All Truck Drivers Forum and Allied South Africa, dreig om die land tot stilstand te ruk, maar teen gistraand was daar nog geen beduidende ontwrigting weens die dreigende staking nie.
Netwerk24 berig brigadier Athlenda Mathe, woordvoerder van die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, of Natjoints, het gesê die polisie skryf dit toe aan ‘n hoë polisieteenwoordigheid om seker te maak die stakende vragmotorbestuurders landswette eerbiedig.
Vragmotorbestuurders het onder meer hul afgryse oor die aanstel van buitelanders in hul bedryf duidelik gemaak.
Hulle meen ook sonder arbeidsmakelaars sal meer Suid-Afrikaners, met beter voordele aangestel kan word.
Daar is verwag dat duisende vragmotorbestuurders aan die reuse staking sou deelneem, maar dit het nog nie werklikheid geword nie.