Honderde vragmotors staan steeds vir nagenoeg 20 kilometer ver terug op die N4 by Komatipoort in Mpumalanga – waar hulle wag om die Lebombo-grenspos na Mosambiek binne te gaan.
SABC-nuus berig die grenspos is gesluit nadat Suid-Afrika se Grensbestuursowerheid verneem het dat betogers van die politieke opposisie die grenspos kan versper.
LEES MEER: Suid-Afrika vra vir kalmte in Mosambiek
Die grenspos is Woensdagaand gedeeltelik heropen om Mosambiekse burgers uit Suid-Afrika deur te laat.
Doeanebeamptes van Mosambiek het vroeër na Suid-Afrika gevlug nadat betogers voertuie aan hul kant van die grens aan die brand gesteek het. Van hulle het in hul voertuie oornag.
Die Grensbestuursowerheid sê hulle is met hul ampsgenote in Mosambiek in gesprek om die situasie te monitor.