Die elf vragmotors wat sedert die naweek op nasionale paaie uitgebrand is, is doelbewuste sabotasie en ‘n gekoördineerde aanval op die land se ekonomie en die padvervoerbedryf. Netwerk 24 berig die voorvalle is skerp veroordeel deur president Cyril Ramaphosa en die minister van polisie, Bheki Cele. Die hoof van die Padvrag-vereniging, Gavin Kelly, het gesê die tydsberekening en die plekke waar die vragmotors aangeval is, is gekies om die maksimum skade aan te rig. Die aanvalle sal op die lange duur net nog meer werkloosheid veroorsaak terwyl ondernemings en sektore toenemend wegbeweeg van Suid-Afrika. Ramaphosa het gesê dit lyk na ekonomiese sabotasie en hy sal intelligensie verslae oor die voorvalle ontvang. Die polisie sal ook hul waaksaamheid en patrollies verskerp waar die aanvalle plaasgevind het op die N3, die N4 en N12, het Cele gesê.