ʼn Vrou van Moreletapark in die ooste van Pretoria is tydens ʼn gewapende rooftog in die maag geskiet toe sy ʼn kosaflewering buite haar huis in ontvangs geneem het.
Ao. Duane Lightfoot, plaaslike polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die vrou het Saterdagaand kos aanlyn bestel. Die afleweraar het omstreeks 20:30 op sy motorfiets buite die vrou se huis stilgehou en die vrou is na buite om die kos in ontvangs te neem. Dit is toe dat ʼn onbekende wit voertuig by die hek stilhou. ʼn Man het uit die motor gespring en die vrou se selfoon geëis voordat hy twee skote op haar afgevuur het – wat haar in die maag getref het.
Die skieter het terug in die wit voertuig gespring en die voertuig het weggejaag. Die voertuig was egter kort daarna in ʼn ongeluk betrokke. Dit is waar polisie twee van die drie verdagtes aangekeer het. Hulle verskyn binnekort in die hof op aanklagte van moord.