Die Suid-Afrikaanse afdeling van die Internasionale Vereniging van Vroueregters sê die stilte oor geslagsgebaseerde geweld moet verbreek word. Die organisasie het gereageer op die moord op die Vrystaatse landdros, Mamello Thamae. Die 40-jarige Thamae was ‘n landdros in Heilbron en is Donderdagaand vir die laaste keer gesien toe sy by haar huis aangekom het. Haar liggaam is Saterdagoggend in haar man se motor se kattebak in Lesotho by ‘n gastehuis gevind. Haar man is die verdagte in die saak en wag op uitlewering aan Suid-Afrika. Die organisasie het hul skok en ongeloof uitgespreek oor Thamae se dood.
