Vrystaat Landbou, in samewerking met die privaat sekuriteitsmaatskappy LGV, het 16 bykomende Psira geregistreerde privaat ondersoekers opgelei om veediefstal te bekamp. Dit bring die totale aantal ondersoekers sedert die inisiatief in Julie 2023 begin het, op 21 te staan.
Volgens Peet Swanepoel, provinsiale koördineerder vir die PSIRA privaat ondersoekers, volg die opleiding vandeesweek op versoeke van verskeie Vrystaatse boerderygemeenskappe waar veediefstal hooggety vier. Vrystaat Landbou het die inisiatief met R1 miljoen befonds. Swanepoel sê ‘n tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by Veediefstal Eenhede van die polisie is kommerwekkend en dit het duidelik geraak dat die gemeenskap betrokke moet raak. Die suksesse van die inisiatief het getoon die diens moet uitgebrei word.