Die opwaartse aanpassing van 8,5% in die nasionale minimum loon is hopeloos uit voeling met die ekonomiese werklikheid wat sakeondernemings in die gesig staar.
Dit is luidens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, wat met Maroela Media gepraat het, in reaksie op die aanpassing, soos dit Vrydag in die Staatskoerant bekend gemaak is.
Daar is vroeër berig die nasionale minimum loon styg vanaf 1 Maart tot R27,58 per uur, vanaf die vorige minimum loon van R25,42 per uur.
Wilken sê boerdery is geskoei op gesonde sakepraktyke wat insluit die finansiële oorwegings oor die beskikbaarheid van genoeg middele om werknemers te vergoed.
Hy voeg by hierdie drastiese aanpassing van die nasionale minimum loon is nie net uit voeling met die ekonomiese werklikheid nie, maar gaan ook ʼn wesenlike las op die sektor plaas.
Wilken het verder gesê die landbousektor beskik oor die vermoë om werk te skep, iets wat hy sê die land in hierdie stadium werklik broodnodig het.