Die Fezile Dabi Trio-taakspan, Parys Misdaadintelligensie-eenheid, Sasolburg-snelwegpatrollie en Parys-verkeersbeamptes het gesamentlik drie mans en een vrou, tussen 28 en 72 jaar oud, in hegtenis geneem glo vir die besit van ‘n seinblokker – en het ’n vermeende gesteelde Porche teruggevind.
Luidens ‘n polisieverklaring het lede van die eenhede Vrydag ‘n soektog geloods vir ‘n silwer luukse voertuig wat glo betrokke was by die diefstal van ‘n Porche in Vereeniging.
Die verdagtes is op die R59 aangetref en hul voertuig is suksesvol gestop en deursoek. In die voertuig is vier verdagtes glo in besit van ‘n seinblokker en die sleutels van die vermeende gesteelde hoëprestasie voertuig gevind.
Die vier verdagtes word verwag om binnekort voor die Parys-landdroshof te verskyn op aanklagte van besit van seinblokkers.