‘n Vrou van Jacobsdal in die Vrystaat, Cecile Koen, was in skok na ’n pofadder haar tydens beurtkrag in Hartenbos gebyt het.
Netwerk24 berig die Koen-gesin is in Hartenbos vir die Suid-Afrikaanse junior Toutrekkampioenskap waarvan haar man, Johan, die toutrek-afrigter vir die Landboudal-span van Jacobsdal is.
Volgens Johan het die pofadder Cecile Woensdagaand gebyt tydens beurtkrag toe hulle op pad na hul huisie by die ATKV-oord in Hartenbos was.
Na die byt, het ‘n groepie mense met hul selfone se liggies op die gras geskyn en die pofadder gesien.
Johan het Cecile na die hospitaal geneem maar sy het nog nie teengif ontvang het nie.
LEES MEER: Suid-Afrika vervaardig nie meer slangteengif nie
Volgens die Mossel Bay Advertiser sê die plaaslike slangvanger, Devon de Villiers, dat die gif van pofadders die lewende weefsel smelt waar hulle gebyt het.
Hy noem dat pofadders een van Suid-Afrika se gevaarlikste slange is, omdat hulle stil lê, goed kamofleer en vinnig kan byt.
De Villiers sê pofadders is volop in die gebied weens plaagdiere soos rotte en muise, en het sewe pofadders in dieselfde week tussen Klein-Brakrivier en Danabaai verwyder.
Johan sê hulle het groot geskrik en prys die hospitaal se dokters en verpleegsters vir hul wonderlike diens. Cecile mag dalk Sondag ontslaan word.