Die Vrystaatse landdros en rugbylegende, Piet Bester, is op sy plot naby Glen, buite Bloemfontein, vermoor.

Die 63-jarige Bester, wat onder meer onthou word vir sy skrumwerk vir die Shimlas toe hulle as nasionale Klubkampioene gekroon is, se liggaam is Sondagoggend sowat 09:00 in ‘n plas bloes gevind, waar hy veelvuldige beserings gehad het.

By navrae deur Rosestad-nuus het die polisiewoordvoerder, Loraine Earle, in ‘n verklaring bevestig ‘n werker het op Bester se liggaam afgekom. Sy sê te danke aan spanwerk en die vinnige reaksie van die plaaslike gemeenskap en polisie is twee mense reeds rakende die aanval in hegtenis geneem, en sal binnekort in die hof verskyn.

Luidens inligting wat op SupaRugby gedeel is, is Bester glo Vrydagaand reeds uit sy huis gelok en aangeval.

Bester en sy broer, André, het as die Bester-broers in Vrystaat-rugby bekend gestaan.

Sy dood is met skok en hartseer ontvang, met medelye wat op sosiale media instroom. Onder hierdie is Toks van der Linde, wat skryf hoe hy sy debuut in Vrystaat-rugby saam met die Bester-broers gemaak het.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×