Die Vrystaat LUR vir omgewingsake, Thabo Meeko, het gesê die departement tree streng op teen eienaars van leeuplase wat die wet oortree. Netwerk24 berig sommige leeutelers is reeds gevonnis terwyl die direkteur van openbare vervolging nog oor die vervolging van ander moet besluit. Meeko het vrae beantwoord wat die DA-LPW, James Letuka, ingedien het. Daar is 86 boetes van tussen R500 en R5 000 die afgelope drie jaar opgelê vir kleiner oortredings waar leeuboere nie aan hulle permitvoorwaardes voldoen nie. Twee persone is ook gestraf wat leeuwelpies in die stad aangehou het. Die eienaar van die Olivia-leeuplaas, en ‘n makelaar in die stad, Charl Terblanche, se saak kom op 15 Januarie in die streekhof in Bloemfontein voor. Die DBV in Bloemfontein het sy plaas in 2021 besoek nadat hulle ‘n interdik moes kry en het op grusame tonele afgekom van leeus wat nie net verhonger was nie, maar ook van hulle pote wat verbrand was tydens ‘n veldbrand. Die DBV moes 30 leeus van kant maak. Reinet Meyer van die DBV het gesê daar word gereeld inspeksie by leeuplase gedoen. Sy het gevra dat mense die DBV skakel indien hulle inligting oor leeuslagplase het asook mishandeling. Volgens Meeko is daar 119 geregistreerde leeuplase in die Vrystaat.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×