Die polisie in die Bloemspruit bedieningsgebied neem soms langer as 66 minute voordat hulle op ‘n ernstige misdaad-klagte reageer. Dit sluit die sogenaamde Alpha-klagtes in wat verband hou met dreigende omstandighede, berig Maroela Media. Dit is volgens ‘n skriftelike antwoord van die minister van polisie, Bheki Cele, op ‘n vraag wat die DA in die nasionale raad vir provinsies gevra het. Ander polisiekantore waar die reaksietyd vir Alpha-klagtes langer as dertig minute duur, is die Mangaung-distrik met ongeveer 37 minute, Parkweg met bykans 40 minute, Kagisanong met 55 minute, Mangaung en Welkom met net meer as 30 minute en Tseseng en Kopanong met 36 minute. Op kleiner dorpies wissel die reaksietyd tussen 20 en 29 minute. Die DA se woordvoerder vir veiligheid en justisie, George Michalakis, het gesê dit is ‘n sprekende voorbeeld van die gebrek aan polisiehulpbronne soos sigbare polisiëring en voertuie.