Die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana en tien ander waaronder drie LUR’e, se besoek aan China wat die belastingbetaler bykans twee-miljoen-rand uit die sak gejaag het, het die DA in die provinsie rooiwarm onder die kraag. Die besoek van twee weke wat einde verlede jaar plaasgevind het, was glo om bande met twee Chinese provinsies, Jiangxi en Jiangsu, te versterk. Netwerk 24 berig dit blyk uit skriftelike vrae wat die DA-leier in die wetgewer, Roy Jankielsohn aan Dukwana gevra het. Die totale uitgawes vir die premier en sy afvaardiging was een-komma-832 mijoen rand. Dukwana het gesê die uitkomste van so ‘n besoek kom nie oornag nie, maar dat die samewerkingsooreenkomste se positiewe uitwerking eers later gesien sal word. Samewerking sal gedoen word op die gebied van handel, wetenskap, tegnologie en opvoedkunde. Dukwana het gesê daar is ook ‘n ooreenkoms gesluit om meer toeriste-produkte vir Chinese reisigers in die Vrystaat aan te bied.