‘n Man van Meloding in Virginia in die Vrystaat sê hy vrees vir sy lewe nadat hy na bewering deur die president-generaal van die African Congress for Transfomation-party, Ace Magashule, en van sy lyfwagte aangerand is. Magashule was die naweek in die Lejweleputswa-distrik waar hy sy ACT-party in Welkom en Virginia bekend gestel het. SABC-nuus berig die man, Ndade Moletsane, sê ‘n konvooi voertuie het verby hom gery en T-hemde is na mense gegooi. Hy sê ‘n T-hemp is ook na hom gegooi, maar hy het dit teruggegooi. Moletsane sê die hemp het op Magashule se gesig beland. Hy voer aan dat die voertuie gestop het en Magashule en sy lyfwagte het hom blykbaar aangerand.