Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies vra nou vir ‘n onmiddellike wapenstilstand in Gasa.
Die dringende beroep eis ook die onmiddellike, en onvoorwaardelike, vrylating van alle gyselaars. Dit is die eerste keer dat die VN-veiligheidsraad ’n beroep doen op ’n wapenstilstand sedert die oorlog op 7 Oktober 2023 uitgebreek het. Hoewel die VSA nié sy stem hieraan toegesê het nie, is Israel uiters ontevrede dat die VSA buite stemming gebly het, eerder as om die voorstel teen te staan.
BBC berig die Palestynse verteenwoordiger by die VN, Riyad Mansour, verwelkom die resolusie, selfs al meen hy dis te laat. Hy sê meer as 100 000 Palestyne moes eers vermoor en vermink word, voordat die raad uiteindelik nou ‘n onmiddellike wapenstilstand eis.