Die polisie sê vyf verdagtes is in hegtenis geneem nadat skote op die polisie afgevuur is tydens gewelddadige protesoptrede by Mthatha. Betogers wat vermoedelik deel is van die taxi-bedryf het die N2 en R61 met vragmotors versper. SABC-nuus berig van die vragmotors is ook geplunder en aan die brand gesteek.
Die taxi-operateurs is glo ontevrede oor vuurwapens waarop die polisie beslag gelê het nadat taxigeweld in die gebied verlede week opgevlam het. Rosestad-nuus het vroeër berig bedrywighede in die Mthatha-lughawe is gedwing om vir eers te sluit, soos wetstoepassers besig was om die situasie in die dorp te probeer beheer. Volgens Arrive Alive is al die groot toegangs- en uitgangpunte geblokkeer, na bewering deur betogende taxi-operateurs.