Vyf veediefstal-verdagtes is vroeg vanoggend deur die polisie en ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy in twee afsonderlike gevalle buite Bloemfontein vasgetrek. Polisiewoordvoerder, Sersant Peter Kareli, het in ‘n verklaring gesê die polisie het beslag gelê op 45 skape ter waarde van R90 000, wat in ‘n bakkie en een-ton-voertuig vervoer is. Die skape wat gebrandmerk is, is op ‘n plaas in Vanstadensrus gesteel. Die wakker optrede volg nadat Vrystaat Landbou die week bekend gemaak het dat die organisasie R1 Miljoen bewillig het om ‘n privaat-ondersoekdiens aan te stel wat die polisie sal help met veediefstal-ondersoeke. Die gratis diens is reeds vanaf 1 Julie in die Noord-Vrystaat beskikbaar aan lede van Vrystaat Landbou.
