Vyf verdagtes kan moontlik met die drie-dubbele Wilgehof-moorde verbind word.
Bloemfonteiners is op 29 Junie vanjaar geruk deur die grusame moorde op die 65-jarige Bets Kruger, wat die Byenes-dagsorgsentrum in Van Heerdenstraat bedryf het, asook haar dogter Janine en skoonseun Christo Theron.
Volgens Rapport het die families van die slagoffers die saak einde Augustus aan die private ondersoekerMike Bolhuis se Specialised Security Services, of SSS, oorgegee.
Antoinette Coetser, spesialis-ondersoeker van SSS, sê inligting dui aan dat tot soveel as vyf verdagtes met die moorde verbind kan word.
Sy sê die motief vir die moorde blyk finansiële gewin te wees.
‘n Onbekende, maar groot, bedrag geld en ander waardevolle items is ten tyde van die raaiselagtige rooftog gebuit.