Vyf verdagtes is in die Oranjeville-gebied, in die noorde van die Vrystaat, in hegtenis geneem nadat verskeie beskermde visspesies onwettig in hul besit gevind is.
Nuusflits berig die polisie het inligting ontvang oor verdagtes wat met ‘n wit Toyota Hilux-bakkie op die Moedersdeel-plaaspad reis.
Hierdie inligting is met die polisie se duikeenheid gedeel, wat daarop gereageer het deur die pad te versper.
Die bakkie is kort daarna opgemerk, tot stilstand gedwing en deursoek. Tydens die soektog het die polisie ses sakke vol onwettige vangnette en ’n groot hoeveelheid vis gevind.
Die vyf verdagtes, wat ook onwettige immigrante is, is in hegtenis geneem op aanklagte van die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.
Die verdagtes moet Woensdag 13 November 2024 in die Oranjeville-landdroshof verskyn.