Die waarnemende burgemeester van die Mangaung-metro, Gregory Nthatisi, het die 2023/2024 begroting gister onttrek skaars vier ure nadat hy dit ter tafel gelê het. Nthatisi het nadat hy met ANC-raadslede gekoukus het, gesê hy wil eers weer oor die begroting besin, berig Netwerk 24. Hy het gesê hy wil ‘n gees van samehorigheid onder raadslede van die verskillende politieke partye hê en dat almal met die begroting tevrede moet wees. Hy sal na sewe dae weer na die raadskamer terugkom en het genoem die belange van die inwoners moet voorop gestel word. Die vermoede bestaan ook dat Nthatisi besef het dat hy nie genoeg stemme sou hê om die begroting deur te voer nie. Hy het 51 stemme nodig gehad terwyl dit gelyk het of daar net 48 stemme ten gunste van die begroting sou wees. Volgens die begroting word kragtariewe met 15,1% verhoog, watertariewe met 9% en erfbelasting met 5,72%. Die riool-en sanitasietarief sal met meer as 5% styg en vullisverwydering met 8%. 

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×