Die Nasionale Departement van Gesondheid verwerp berigte oor ‘n nuwe COVID-19 Omicron XBB-variant. Die fopnuus doen die rondte op sosiale media-platforms en raai mense aan om gesigmaskers te dra weens ‘n beweerde dodelike variant wat nie maklik opgespoor kan word nie.
Die departement sê dit is ‘n misleidende boodskap wat die eerste keer tydens die hoogtepunt van die pandemie sonder ‘n naspeurbare bron opgeduik het. Die woordvoerder van die departement, Foster Mohale, versoek die publiek om kwaadwillige sosiale media-inhoud te ignoreer wat die bedoeling het om onnodige paniek en verwarring te veroorsaak, veral omdat die land die griepseisoen binnegaan.