Wanneer Bloemfontein se bibberweer sy opwagting maak, is dit weer tyd vir jou om by Rosestad 100.6FM se kombers-insamelingsprojek betrokke te raak.
Rosestad en sy lojale luisteraars snoer vanjaar kragte met skole in die stad om te help sorg dat honderde inwoners van die Mangaung-metro hierdie winter warm kan
slaap.
Johan Gunter, Rosestad se projektebestuurder, het gesê dit is noemenswaardig dat skole hul steun aan vanjaar se kombersprojek toesê, aangesien dit kinders aanspoor om reeds van jongs af uit te reik na mense wat minder as hulle het.
Die projek wat môreoggend by Dankbaar CVO afskop, duur tot 9 Junie.
Die Rosestad-span sien daarna uit om jou en jou kombersskenkings by die volgende skole te ontvang:
Môreoggend by Dankbaar CVO van half agt tot om half nege. Vrydag 2 Junie tussen sewe-uur en agtuur by die Fichardtpark Laerskool.
Die Tiny Tots-kleuterskool kry hierna van kwart oor agt tot om nege-uur die geleentheid om sy gulhartigheid te wys.
Op Vrydag 2 Junie kan komberse by die laerskool Presiedent Brand afgegee word.
Die span sal van kwart oor tien tot om twintig voor elf hier wees. Op 9 Junie kom Grey Primêr tussen sewe en agt aan die beurt en Willem Postma Primêr op dieselfde oggend van elf tot twaalf.
Luisteraars wat komberse wil skenk, kan dit ten tyde van hierdie geleenthede kom afgee of by Rosestad se kantoor. Skakel Johan Gunter by 072 621 3345 vir meer inligting.