Koning Charles die derde van Engeland het gesê hy wil ‘n veel eenvoudiger kroningsgeleentheid hê as wat sy ma, wyle Koningin Elizabeth die tweede, in 1953 gehad het.
Charles en Camilla, die koningsgemalin, sal op Saterdag 6 Mei in die goue staatskoets van Buckinghampaleis na die Westminster-abdy vervoer word vir dié luisterryke geleentheid.
Netwerk24 berig dit is onduidelik of prins Harry en sy vrou Meghan die kroningsgeleentheid sal bywoon.
Die Britse koningshuis swyg steeds ná die opspraakwekkende dokumentêre reeks Harry & Meghan op Netflix.
Daar word ook nie woord uit daardie oord gehoor oor Harry se blitsverkoper-boek, Spare, wat onlangs uitgereik is nie.
Hierin vertel Harry onder meer hoeveel mense hy in Afghanistan doodgemaak het en ook van ‘n handgemene onderonsie met sy broer, prins William.