Die “War on Waste”-projek om Bloemfontein weer skoon te kry en sy status van die Rosestad te herleef, het Vrydag begin. Altesaam 2100 deeltydse werkers van die departement van Openbare Werke se program vir uitgebreide openbare werke, of EPWP, sal vir die doel aangewend word. Bloemfontein het die afgelope jare verval met woonbuurtes en die middestad wat met rommel bestrooi is. Die projek het begin by die suidelike stortingsterrein tydens ‘n besoek van die adjunk-minister van omgewingsake, Maggie Sotyu. Opgehoopte vullis word ook tans by die suidelike stortingsterrein met nuwe grondwerkvoertuie in hope bymekaargemaak en verwerk. Sotyu het gesê die munisipale programme vir skoonmaak van woonbuurtes en begroening begin in 14 geprioriseerde munisipaliteite land wyd. Tien miljoen bome sal oor ‘n tydperk van vyf-jaar landwyd geplant word. In Bloemfontein begin ‘n spesiale projek ook eersdaags om vullis reeds by huishoudings te skei.