Talle inwoners in groot dele in die suide van Bloemfontein het sedert Sondagaand min of geen water in hulle krane gehad.
Valerie de Kock, Vryheidsfront Plus raadslid in die Mangaung Metro Munisipaliteit, het gister aan Rosestad gesê weerlig het ‘n kragonderbreking veroorsaak by die Welbedachtdam se suiweringsaanleg.
Die weerlig het van die toerusting beskadig. Bloemwater was toe genoop om die watertoevoer na Brandkop reservoir af te skakel om moontlike skade aan die pyplyn te beperk.
Die pyplyn tussen Welbedachtdam en die Brandkop reservoir sou gisteroggend weer oopgestel word maar ‘n insident by een van die pompstasies by die dam het veroorsaak dat die stelsels nie aangeskakel kon word nie.
Water-tenkwaens sal vandag na Universitas, Fichardtpark, Pellisier, Fleurdal en Wilgehof gestuur word, indien nodig.
Bloemwater hoop dat al drie pompe voor sesuur vanaand operasioneel sal wees.