Dit is dag twee van vyf met ‘n dringende waarskuwing oor die uiterse hoë gevaar vir die ontstaan van wegholbrande in die Mangaung-metro. Die Vrystaat, Noordwes en Gauteng, is sekere van die provinsies wat reeds sedert begin Augustus grootskaals deur wegholbrande geteister word.
Tarien Cooks, rampbestuurkenner by AfriForum, sê derduisende hektare weiding het reeds in die slag gebly, en erge infrastruktuurskade is aangerig. Lewensverlies van boere en werknemers is aangemeld, en duisende stuks vee kon nie daarin slaag om van die vlammehel te ontsnap nie. Mense word gemaan om uiters versigtig te wees, om brande onmiddellik aan te meld, en om nie self in te spring om’n wegholveldbrand te probeer blus nie.