Groot dele van Welkom was Donderdag sonder elektrisiteit met talle besighede en nywerhede wat lam gelê is as gevolg van kabeldiefstal. Die polisie se woordvoerder, Stephen Thakeng het aan Netwerk 24 gesê veiligheidsbeamptes is Donderdagoggend by die Matjhabeng substasie deur tien mans oorval en vasgebind. Hulle is ook beroof van ‘n haelgeweer en selfone. Die rowers het weggekom met groot hoeveelhede koperkabels. Die munisipale bestuurder van Matjhabeng, Lonwabo Ngoqo, het gesê die kabeldiewe is in Welkom gesien maar het gevlug. Die kabels is gelukkig teruggekry. Ngoqo het gesê die diefstal is die werk van ‘n sindikaat. Die blyk asof mense in munisipaliteits-uniforms eers die lyne oopgrawe waar die kabels lê en die diewe dan in die nag toeslaan.