Sou die Springbokke vanjaar se Rugby Wêreldbeker-toernooi in Frankryk wen, wag daar, benewens die beker en die eer, ook meer as R75-miljoen op die Bokke.
Netwerk24 skryf die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, of Saru, het bevestig hy het in 2019 ‘n bedrag van R62-miljoen in wenbonusse aan Suid-Afrika se
rugbytrots uitbetaal vir hul vertoning in Japan.
’n Woordvoerder van Wêreldrugby het bevestig geen prysgeld word vir die Wêreldbeker uitbetaal nie, maar wel ‘n fooi vir deelname oor ‘n vierjaar-tydperk.
Die Saru-geld vir vanjaar se toernooi is skynbaar weer moontlik gemaak deur onder meer eksterne versekering vir die uitspeelwedstryde, en interne versekering vir die groepwedstryde.
Luidens Daily Maverick reken alle partye daar is ’n goeie balans bereik met dit wat vir Saru bekostigbaar is, en dit waarmee die spelers tevrede is.