Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, het eise van die hand gewys om die Werkloosheidsversekeringsfonds, of WVF, onder administrasie te plaas ondanks toenemende kritiek oor die fonds se onvermoë om duisende eisers te verwerk en te betaal. Die WVF se tekortkominge het ongeveer 87-duisend mense sonder hul broodnodige finansiële ondersteuning gelaat. Sake-organisasies en vakbonde het kragte saamgesnoer om ‘n omvattende opknapping van die WVF te vra. Die vakbondfederasie Cosatu het sy gewig agter hierdie oproepe gegooi en soek aktief dringende vergaderings met die presidensie en Nxesi om te verseker dat daar onmiddellik opgetree word.
