Wernich Botha van Klerksdorp staan na afloop van vandag se hofverskyning formeel tereg vir die moord op die 32-jarige Hilton Pretorius.
Botha is aanvanklik aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Pretorius, wie ernstige kopbeserings opgedoen het, is op 20 September – ongeveer drie weke na die beweerde parkeerterrein-skermitseling – in die hospitaal oorlede.
Staatsadvokaat Walter Baganeneng het vandag in die Klerkdorpse landdroshof gesê die aanklagte teen die 33-jarige Botha is nou van ‘n skedule 1 na ‘n skedule 5-misdaad aangepas.
Sosialemedia het einde September gegons, toe Botha kort ná sy vorige hofverskyning landuit is. Daar is toe wyd bespiegel oor die moontlikheid dat hy voortvlugtig was.
Sy regsverteenwoordiger, Kobus Burger, het egter gesê Botha is Somalië toe vir werk, en dat hy wél vir vandag se verskyning terug in die land sou
wees. Rosestad-nuus het intussen vasgestel daar is geen uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Somalië in plek nie.
Dit is wyd bekend dat Somalië se uitleweringswetgewing glo verouderd en onvoldoende is. Somalië word volgens die East African Scholars Journal of Humanities deur ander lande as onbereidwillig beskou, met betrekking tot internasionale samewerking teen misdaad.