Onteiening sonder vergoeding onder sekere omstandighede is ‘n stap nader om wet te word. Die Nasionale Raad van Provinsies, of NRP, se komitee oor vervoer, staatsdiens en administrasie, openbare werke en infrastruktuur het gister die finale weergawe van die omstrede Onteieningswetsontwerp met die komitee se wysigings daaraan, aanvaar.
Die DA en Vryheidsfront Plus lede in die komitee het daarteen gestem. Die gewysigde weergawe word nou na al nege provinsiale wetgewers gestuur, wat volgende week hul finale mandate daaroor aan die komitee moet voorlê. Die wetsontwerp is reeds in 2022 deur die Nasionale vergadering goedgekeur. Sodra die wysigings deur die NRP goedgekeur is, word dit na die Nasionale Vergadering teruggestuur vir instemming voordat die president die wet bekragtig.