Die liggaam van die driejarige Lethabo Prince Litabe is in Winburg gevind, toegedraai in ’n swart vullissak, nádat hy Saterdag, 16 November, as vermis aangemeld is.
Volgens Nuusflits het Neo Litabe, van die Makeleketla-woonbuurt in Winburg, Saterdag omstreeks 19:00 sy kleuterboetie as vermis aangemeld.
Ondanks ’n uitgebreide soektog is die kind nie opgespoor nie.
Sondagoggend het ’n inwoner van Makeleketla die polisie in kennis gestel van die ontdekking van ’n kind se liggaam op hul erf. Toe die SAPD-lede opdaag, is die liggaam van ’n kind gevind, toegedraai in ’n swart plastieksak.
Nooddienste het die kleuterseun op die toneel dood verklaar, en sy familie is hiervan ingelig. Die seun se liggaam is deur sy oom uitgeken.
‘n Saak van moord word ondersoek.