Die winde van verandering het vandag begin waai in die bankrot Mangaung Metro Munisipaliteit met die verkiesing van die nuwe speaker toe die DA se kandidaat gewen het. Maryke Davis is vandag tydens ‘n spesiale raadsvergadering met ‘n meerderheidstem van 53 stemme teenoor 40 in die amp verkies. Johan Pretorius, leier van die DA-koukus in die metro het na die verkiesing gesê dit is ‘n dag vir die geskiedenis boeke. Hy het gesê raadslede en opposisiepartye het saamgestaan om dit duidelik te stel almal wil verandering sien. Dit is die eerste stap om vir die mense van Mangaung te werk, het Pretorius gesê. Die Vryheidsfront Plus in die raad het ook vir Davies gelukgewens. Lucky Mongale van die African Alliance of Social Democrats (AASD), sê die speaker is verantwoordelik vir die proses van die metro se ontwikkelingsplan. Vandag is ‘n bewys die mense wil dienslewering hê.
