Sewe gevalle van Witseerkeel is by die Pollsmoor-korrektiewe sentrum in die Wes-Kaap bevestig. Die departement van korrektiewe dienste sê altesaam 44 gevangenes is tans in isolasie.
Witseerkeel is ‘n aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur gifstofproduserende bakterieë. Dit kan van persoon tot persoon versprei wanneer ‘n besmette persoon hoes of nies.
Volgens ENCA het kontakopsporing begin, om individue wat moontlik aan die besmette gevangenes blootgestel is, te ïdentifiseer. Die departement sê hy het voorkomings- en beheermaatreëls ingestel om die potensiële verspreiding van die bakteriële siekte te beperk.
Intussen is, volgens IOL, meer as 300 mense wat in die Philippi-plaaslande woon, vir witseerkeel getoets ná ‘n bejaarde vrou verlede week in die Riemvasmaak-informele nedersetting oorlede is.