Al drie wyle advokaat Pete Mihalik se moordenaars is vroeër vandag lewenslange tronkstraf in die hooggeregshof in Kaapstad opgelê.
Netwerk24 berig tydens vonnisoplegging het regter Constance Nziweni gesê Sizwe Biyela, Nkosinathi Khumalo en Vuyile Maliti het koelbloedig opgetree.
Daar was ook geen agting vir Mihalik se twee minderjarige kinders nie.
Biyela het die 50-jarige Mihalik op 30 Oktober 2018 voor sy kinders se skool in Kaapstad doodgeskiet.
Die drie is verder tot tien jaar tronkstraf gevonnis op die twee aanklagte van poging tot moord en tot sewe jaar tronkstraf op die aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en van die onwettige besit van ammunisie.