Die departement van water en sanitasie sê die ooreenkoms wat met die Zimbabwiese regering onderteken is vir watervoorsiening, sal verligting in Limpopo bring.
Hiervolgens sal ‘n sekere hoeveelheid water vanaf die Beitbrug-watersuiweringswerke na Musina in Limpopo herlei word. Die inisiatief sal na verwagting deel vorm van ‘n plan om voortslepende wateruitdagings in Musina die hoof te bied.
Die gebied is dikwels die middelpunt van diensleweringsbetogings, met hoogs gefrustreerde inwoners wat ‘n permanente oplossing vir die langdurige waterkrisis eis. Die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, sê hierdie samewerkingsooreenkoms is ‘n goeie wegspringblok.