Zuma kan moontlik ‘n paar opsies oorweeg indien die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping se aansoek vandag slaag

Die voormalige president, Jacob Zuma kan moontlik ‘n paar opsies oorweeg indien die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping se aansoek vir ‘n Konstitusionele Hofbevel vandag slaag.

In hulle aansoek vra die kommissie dat Zuma skuldig bevind word aan minagting van die hof wat gevangenisstraf kan beteken.

Luidens berigte vra die voorsitter van die kommissie, adjunkhoofregter Raymond Zondo dat Zuma twee jaar tronkstraf opgelê word.

Zuma het ‘n bevel van die hoogste hof geminag wat hom beveel het om voor die kommissie te verskyn.

In sy verweer sê Zuma dat adjunkhoofregter Zondo bevooroordeeld is teenoor hom.

Volgens Pierre de Vos, ‘n grondwetkenner, kan die Konstitusionele Hof besluit om ‘n opgeskorte vonnis
aan Zuma op te lê, mits hy binne drie weke voor die kommissie verskyn.

‘n Ander moontlikheid is tronkstraf, of ‘n boete tesame met ‘n opgeskorte vonnis.

De Vos is van mening dat die belangrikste oorwegings in die saak die gepaste vonnis sal wees.

Luister na potgooie hieronder