Oudpres Jacob Zuma se private vervolgingsaak teen pres Cyril Ramaphosa was weer vandag op die hofrol van die Johannesburgse hooggeregshof, maar is tot 6 Augustus uitgestel. Maroela Media berig dit is byna ‘n jaar sedert die hooggeregshof beslis het dat Zuma se private vervolging van Ramaphosa onregmatig en ongrondwetlik is en ook met ‘n bymotief gedoen is.
Zuma het intussen teen die beslissing geappelleer en verloor, en toe sy saak na die hoogste hof van appél gewend en weer verloor. Hy versoek nou die hof om die besluit te heroorweeg. Zuma is vasbeslote om Ramaphosa te vervolg vir sy aandeel in die sogenaamde misdade wat deur die staatsaanklaer, adv Billy Downer gepleeg is. Zuma is buite die hof verras met ‘n MK-tema-verjaarsdagkoek waar hy MK-lede toegespreek het. Zuma vier more sy 82ste verjaarsdag.