Die Bokke se hoofafrigter Rassie Erasmus het behoorlik die snoeiskêr ingelê vir die tweede ontmoeting met die Wallabies die naweek in Kaapstad.
Willie le Roux is terug op heelagter terwyl Canan Moodie en Cheslin Kolbe op die punte diens gaan doen.
Damian de Allende draf uit op binnesenter terwyl Jesse Kriel sy sentermaat gaan wees en ook weer die leisels by Siya Kolisi oorneem wat weens ’n geskeurde knieligament vir vier weke buite aksie is. Handrè Pollard is terug op nommer 10 terwyl Grant Williams die oond sal skoonmaak.
Jean-Luc du Preez, Franco Mostert en Marco van Staden is die splinternuwe lostrio terwyl Ruan Nortjé en RG Snyman die lynstaanspringers is. In die voorry sak Thomas du Toit aan die vaskopkant saam met Malcolm Marx en Ox Nché.
Die plaasvervangersbank is ‘n 6/2 verdeling : Marnus van der Merwe, Boan Venter, Wilco Louw, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Kwagga Smith, Cobus Reinach en Sacha Feinberg-Mngomezulu.